top of page
Search

Was Breyten reg oor grypsug?

‘n Dekade of twee gelede het Breyten Breytenbach die opmerking gemaak dat die land (Suid-Afrika) in sy moer in is weens grypsug. Ek wonder wat dink die befaamde digter en denker nou as hy die beelde van plunder en grypsug sien wat hom die afgelope week in ons geliefde land afgespeel het? Hy, Breyten, het op daardie stadium verwys na korrupte politici en meelopers wat met hulle vingers in elke moontlike geldlaai gevroetel het. Hulle het geplunder, skaamteloos, want hulle kon.


Sy vriend, die sosioloog en politikus Van Zyl Slabbert, het openlik van Breyten verskil. Hy was van mening dat daar genoeg goeie en eerbare mense is wat geregtigheid op die ou end sal laat seevier. Slabbert het veral sy vertroue geplaas in die jongmense van die land wat nie net slim is nie, maar ook die hoë morele pad loop. Die nuwe “smart” generasie sal die samelewing weer op koers kry.


In my klein hoekie kan ek op die oomblik aan net een ding dink. Die volgelinge van Jesus moenie gaan stilstaan by die voet van Ichanga in die Natalse middellande (die steilste opdraende van die Comrades) nie. Ons moenie moed opgee nie! Ons moet aanhou met die oortuiging en lewensingesteldheid dat daar goedheid in alle mense is. Dat ons verby die gryptonele en stukkendheid moet kyk, en ‘n nuwe daeraad moet sien. Van vêr bo ons gedagtes, dit is waar ons redding vandaan kom.

10 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page