top of page
Search

Wat doen die Kruis nou eintlik aan my?

Lydenstyd is nie vir mense maklik nie. Dit is nie maklik om jouself in Jesus se lyding, ‘in te leef’ nie. Dit is selfs moeilik om volle begrip van Jesus se lyding te kry. Daar word van ons verwag om in lydenstyd, Jesus se lyding as mens te onthou. En as ek dit gedurig onthou, wat daarvan? Is sy kruisdood nie maar net ’n eenvoudige boodskap wat sê dat Jesus aan die kruis vir ons sondes gesterf het nie? Wat meer is dit? Hoekom word daar nou van my en jou gevra om in die tyd ook nog introspeksie van ons lewens te doen?


Daar is drie maniere (waarskynlik baie meer) hoe ons oor Jesus se dood aan die kruis kan dink. Die eerste manier kan ons laat wegstaan van die kruisverhaal. Ek kan die kruisiging van God se Seun bloot sien as ’n misplaaste voorsetting van die offer van kinders wat in die antieke tyd voorgekom het. Dit is wreed en onvanpas vir moderne mense, en hoe minder ons daaroor sê hoe beter. Of, tweedens, ons kan in stilte, sonder om daaroor te dink, net naderstaan om die offer van Jesus se lewe as versoening vir ons sondes, opnuut te ervaar. Dit is genoeg vir ons, moenie meer van ons vra nie.


Of, derdens, ons kan probeer om onsself ‘oop te maak’ sodat die lyding van Jesus ons menswees op ’n ander manier aanraak. Om ‘oop te maak’ is ’n metafoor waarmee ons sê ons ontbloot dit wat ons menswees nou is. Daar is ’n klomp goed wat meebring dat ons vandag die mense is wat ons is. Wat maak wat ons sê en wat ons doen en wat ons is. Ons is eerlik oor ons taalgebruik, ons motiewe en ingesteldheid, die mens wat ons is tussen die mense van ons lewens.


Wanneer ons onsself ‘oop maak’, laat ons toe dat die betekenis van Jesus se kruisdood ons binnestes invloei. Dit is sy omgee wat in ons invloei. Dit is sy liefde wat in ons invloei. ‘Oop maak’ is nie iets wat net vir sekere mense beskore is nie. Oop maak is ’n gesindheid, ’n ingesteldheid. Dit is die bereidheid om te waag, te waag om te glo - sodat ek kan volg. Elkeen van ons het waan, vaste idees oor ons vermoëns en oortuiginge – ons laat ons nie sommer vertel nie. Om ‘oop te maak’ beteken om te vra dat die liefde wat daar in Jesus is, oor jou denke en emosies sal spoel. Jy los jou vaste idees en oortuiginge ’n slag eenkant. Ons maak ons oop sodat die waan, die ingesteldheid van ek-weet-wat-is-reg, kan wegspoel. Die Kruis moet in ons kom lewe, daarvoor moet ons ‘oop wees’.


35 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page