top of page
Search

Wat haal die nuus?

‘n Besondere voorreg. Dit is die enigste manier om die uitnodiging om die Noordelike Sinode van die NG Kerk op Dinsdag, 18 Oktober 2022 by Weesgerus vakansie-oord toe te spreek, te beskryf.


Prof Tumi Madonsela, die vorige openbare beskermer, het by dieselfde geleentheid opgetree. Haar tema was onder meer etiese leierskap. Ek het prof Madonsela gevra of sy ‘n leiersrol in die politiek sal oorweeg. Die vraag het tot groot applous gelei. Prof Madonsela sien egter haar eie rol as die opleiding van toekomstige etiese leiers. Dit is jammer dat sy nie beskikbaar is nie, maar die troos is dat Suid-Afrika se politiek tans meer stabiel as die Britse politiek is.


My toespraak het op ekonomiese en politieke aspekte gefokus. Hierdie twee sake in Suid-Afrika is ten nouste verweef. Maar die applous na my vraag was dalk groter as die applous na my toespraak. Ek het onder meer gefokus op die mediadekking wat die NG Kerk kry. Na my mening haal net die gay-debat, die CMR-noord en dominees wat ophou glo, die nuus. Die NG Kerk moet hierdie narratief verander en byvoorbeeld die publiek inlig oor die gemeenskapsdiens wat lank reeds plaasvind. Sonder die uitreikaksies van die NG Kerk op alle vlakke (sinodale aksies tot individuele gemeentes) sal die nood van behoeftiges baie groter wees.


Die stem van die kerk is ook nodig wanneer die regering ten koste van die samelewing optree. Een onlangse voorbeeld is die skokkende voorstel dat kabinetslede en andere se voordele uitgebrei gaan word. Die kerk se stem teen hierdie roofsugtige vergryp deur die regering was afwesig. Na besware uit verskeie oorde is besluit om die voorstel op hersiening te neem. Die NG Kerk moet nie “call-a-quote” wees nie, maar “missing-in-action” is net so gevaarlik.


13 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page