top of page
Search

“Wat het ons met Paasfees gemaak?”

Onthou jy nog die ou swaai? Jy het jou vorentoe en agtertoe met jou bene geswaai om te kyk hoe hoog jy kan swaai. Eintlik kon jy net so hoog vorentoe swaai as wat jy agtertoe kon swaai. So is dit ook met die lewe - om vorentoe te kan gaan, is dit nodig om ook agtertoe te kan gaan. Paasfees 2021 is sopas byna ‘n week verby en die vraag is “Wat het ons met Paasfees gemaak?” Hoekom hierdie vraag so in my kop maal, is omdat ek die voorreg gehad het om Goeie Vrydag en Opstandingsondag in die mooi kerk van Frankfort (Vrystaat) te kon preek.


Ons het plek bespreek om Sondagaand op die skilderagtige dorpie van Clarens te slaap. So net na die erediens het ons in die pad geval. Watter pad? Reeds voor die tyd het verskeie mense ons gewaarsku om of eerder Heilbron-Petrus Steyn-Reitz om te ry of eerder Warden-Betlehem om. Die kortste pad is egter Frankfort-Reitz-Betlehem-Clarens maar die pad tussen Frankfort en Reitz bestaan amper nie meer nie. Hulle wag dat die derde kontrakteur aangestel word omdat die vorige twee met die kontrakgeld verdwyn het.


Met my haastige geaardheid het ons toe wel die pad tussen Frankfort en Reitz aangedurf. Hoe verder ons gery het (op die grondpad langs die teerpad wat opgebreek is) hoe meer het die woede in my opgekruip. Wat het korrupsie nie van hierdie mooi land gemaak nie? Hoe onregverdig is dit nie teenoor inwoners van Frankfort en Reitz nie? En dan nie eers gepraat oor hoe swaar die ekonomie van Clarens moet kry nie? Wat het ons met Paasfees gemaak? Paasfees herinner ons juis aan wat die mens aan mekaar doen weens hulle korrupsie. Jesus se hele verhoor en kruisiging was so onregverdig! En ons gaan maar net aan met ons onregverdigheid. Miskien sou ‘n beter vraag wees “Wat het Paasfees aan ons gedoen?”

20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page