top of page
Search

Wat moet ’n nuwe dominee kom doen?

Dinsdagaand is Stellastraat by ’n roetemerker. Die gemeente gaan dan ’n ‘nuwe’ dominee beroep. Die kerkraad gaan op iemand besluit wat in Stellastraatgemeente moet kom werk. Nie ’n engel nie, nie ’n perfekte mens nie, ’n gewone mens soos elkeen van ons. Wat moet die nuwe dominee kom doen?


Die Kerkorde het ‘n hele uiteensetting van die pligte van ’n dominee - wat myns in siens selfs vir Paulus van die Bybel ‘n uitdaging sou wees. ’n Goeie vriend en lidmaat van die gemeente merk nou die dag teenoor my op dat die rol van die dominee in die samelewing die afgelope dekade of twee baie verander het. Wat hom betref het dit belangrik geword dat die dominee orals in die gemeenskap sigbaar moet wees. Die dominee moet deelneem aan dit wat in die samelewing gebeur. Die dominee moenie net op die kansel en op huisbesoek gesien word nie – hy of sy moet saam met die mense lewe, speel en nadink.


Dit is inderdaad so. ’n Dominee is nie meer iemand wat by die pastorie sit en wag dat iemand hom of haar kom sien, en die res van die tyd sit en voorberei aan sy preke of gebede lei nie. ’n Dominee wat in ’n moderne gemeenskap as geestelike leier wil slaag, moet myns in siens twee dinge doen.

Die eerste en belangrikste is dat die dominee ’n toegewyde teoloog en denker sal wees. Nie die slimste nie, maar toegewy aan sy vak. Dit is wat die dominee moet onderskei van ander beroepe. Hy of sy moet sy vakgebied verstaan en vaardig wees om dit wat uit die teologie en filosofie kom, te integreer met dit wat elke dag in die wêreld gebeur.


Tweedens moet die dominee homself verbind aan die lewens van die mense van die gemeente. Hy moet weet hoe lidmate van sy gemeente se lewens is, wat dryf hulle om te doen wat hulle doen, wat hulle vreugdes en vrese is. Om verbind te wees, moet jy saam met mense beweeg waar hulle beweeg. Of dit op die tennisbaan, of die konsertsale of die staproetes, of die leeskringe, of die wynproe-funksies of die skoolfunksies is – daar moet hy of sy wees.


Ons as kollegas sien uit na ons nuwe kollega! Daar is niks so lekker as om in ’n gelukkige span te werk nie. Een vir almal en almal vir een!


25 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page